BOETIES WIL BOELIES MET BLOG AANSPREEK

November 13, 2014 | By

Eikestad Nuus 13 Nov 14 Front Page - Copy

Die Avonture van Boelie en Boo.

Só lui die naam van die blog van twee laerskoolseuns van Stellenbosch wat gemik is op boelies.

Reuben (12) en Timeon (8) Janse van Rensburg lyk soos enige normale, woelige seuntjies, wat lief is vir speel en omkrap.

Maar, met die oog op Internasionale Anti-Boelieweek wat van 17 tot 21 November gehou word, het die tweetjies besluit om die onderwerp wat vir baie mense taboe is, deur ’n strokiesprentblog te ontwerp, aan te spreek.

Met die hulp van hul ma, Sinta Ebersohn, is die Avonture van Boelie en Boo slegs twee weke gelede begin. Die blog fokus op laerskoolkinders.

Die tweetjies vertel dat die blog ook ontstaan het omdat hulle self al onder boelies deurgeloop het.

Timeon sê: “En boelies is verkeerd.”

Daar is tans drie stories in Afrikaans en Engels op hul blog. Mamma Sinta soek juis iemand om dit te vertaal in isiXhosa of ander internasionale tale.

Die eerste prent gaan oor fisieke boelies.

Reuben sê dit is “waar iemand jou seermaak, of skop.

“In die tweede strokiesprent gaan dit oor emosionele boelie – dit is as mense mekaar spot of terg, en die derde prent is oor vernedering.

“Dit gebeur wanneer iemand kleiner of jonger as die boelie is en hy dit uitbuit.”

Ebersohn vertel dat haar seuns met haar kom gesels het oor die idee en sy het hulle gehelp om als op die internet reg te kry.

“Ouers moet hierdie onderwerp aanspreek.

“Maar ons moet ook besef dat daar meer op die slagoffers gefokus word en nie genoeg op die boelies self nie.”

Sy sê dat die boelies moet verstaan wat hulle verkeerd doen.

Die blog word nou op Ebersohn se webblad, e2Zed.co.za, en die amptelike Facebookblad bemark.

As die tweetjies nie nog strokies uitdink vir die blog nie, is hulle met hul neuse in die boeke.

Reuben is in Jaar 7 by die International School Helderberg en is mal oor elektriese kitaar.

Timeon is in Jaar 3 by dieselfde skool en speel graag klavier en blokfluit. Beide het al SA kleure in karate gekry en is besig om ’n ander taal aan te leer, Timeon leer Mandaryn en Reuben leer Spaans.

Die blog gaan binnekort na skole uitgestuur word en mettertyd sal dit na hoërskole ook uitgerol word.

Ebersohn sê: “Natuurlik sal die weergawe vir groter kinders, meer ’cool’ en ’with it’ wees om by die hoërskoolomgewing in te pas.”

Filed in: Bully & Boo, News

Comments are closed.